Boekresensies deur ywerige lesers

‘n Nuutjie op die webwerf, boekresensies deur ywerige lesers – vir kinders, deur kinders. Ek hoop hierdie resensies sal ander kinders aanspoor om die boeke te lees …

Een van die belangrikste dinge vir ‘n taalonderwyser is dat leerders moet lees, maar veral met begrip moet lees. Dit is natuurlik waar ten opsigte van alle vakke, maar ek praat spesifiek uit die perspektief van ‘n Afrikaanse taalonderwyseres.

Ek het ‘n kleinseun (9 jaar oud en in graad 3) wat boeke lees, maak nie saak hoe dik die boek nie, dit word deel van sy repertoire. En as almal gelees is, begin hy op ‘n punt en lees sy gunstelinge weer ‘n keer. Tot hy ‘n nuwe titel kan kry.

Hy is nie die kenmerkende Bennie Boekwurm soort nie, speel elke oomblik wat hy kan buite saam met sy twee klein boeties, het baie maats by die skool. Maar, as almal rus, is sy boek in sy hand. En hy lees teen ‘n spoed wat my verstom.

Dit was die vakansie by die see absoluut heerlik om so op die stoep saam met die kind te sit en lees terwyl klein boete moet bed toe gaan en oupa ook die kooi gaan opsoek het as ouma nog nie die see wil groet nie. Wie kan – as die hooffoto jou uitsig is – te vroeg bed toe gaan?

En dan wil hy weet: Hoe dik is ouma se boek? Want hy self sit met ‘n boek met 200 bladsye in die hand.

Ek verkyk my aan hom en wens ek het sulke seuns in my matriekklas gehad.

Seuns wat vir die lekker lees. En juis omdat ek taalonderwyseres is, het ek plan gemaak om hom aan die lees te hou. Sy boekvoorraad aan te vul. Want as ‘n kind ‘n boek binne dae lees en die skool nie wil help as jy mooi vra nie, maak ouma ‘n plan – voordat sy lus vir lees geblus word.

Skoolbiblioteke is Desembervakansie dig gesluit, dorpsbiblioteke is weens die pandemie steeds gesluit en om ten minste 10 boeke per maand te koop, is ‘n onbekostigbare saak. Ons praat van so R1 700.00 per maand om die kind aan te moedig om te bly lees. Of R800 per maand as ons boeke by tweedehandse winkels gaan koop. Watter ouer het sulke geld wat rondlê?

‘n Plan wat insluit dat hy resensies moet skryf oor die boeke wat hy gelees het. Die resensies gaan onder sy naam gepubliseer word. Om ander kinders aan te moedig om met hom te gesels oor die boeke – so in die kommentaar.

Ander leerders word uitgenooi om by die resensies betrokke te raak, saam te gesels oor die boeke, soortgelyke boeke aan te beveel. En dalk ook resensies vir die webblad te skryf.

Kontak my gerus.

En wie weet, dalk ontwikkel hierdie boekresensies deur kinders vir kinders in iets groters as wat ek op die oomblik voor hoop.

20 gedagtes oor “Boekresensies deur ywerige lesers

  1. Dit is BAIE oulik! Ek het ‘n biblioteekkwalifikasie ook en vir my was boeke en lees nog altyd vreeslik belangrik! Ek het vir 14 jaar in SA 2 skoolbiblioteke gehanteer en toe ons hier kom, het ek besluit ek’s ‘klaar’ maar toe weer een aangepak vanaf 2015, maar toe laas jaar vir die hoog gese ek wil ‘n breuk he – dis net te veel om dit te doen en jy het geen ander hulp nie. Ek het selfs ‘n leesblog vir die skool begin en kinders kon stukkies in die kommentaarboksies los oor boeke wat hulle gelees het.

    Liked by 1 person

    1. Nikita, is jou leesblog steeds aktief? Is dit meergemik op die Engelse leerder?
      Christa, jou kleinseun moet asseblief aanhou met sy oulike boekresensies. As my kleinseun boekiessoek, salek graag hier kom lees wathy aanbeveel.

      Liked by 1 person

      1. Hi Toorts, Ja, dit was gemik op die Engelse kinders en ook meer ons skool omdat ek in beheer was van die biblioteek, het ek sommer die boeke geblog sodat die onnies vir die kinders in die klasse kon wys wat was nuut. Maar, ek het net die naweek die blog gedelete. Ek het die biblioteek nou ‘n paar maande gelede na ‘n kollega oorgegee – want ek het gevoel ek het dit nou lank genoeg gehad en moeg geraak vir al die ‘issues’ wat ek ook moes hanteer – met die alledaagse skoolhou en dit het net meer begin raak. Ook daarmee saam, het die lees van die blog afgeneem toe ons ‘n nuwe hoof gekry het (4 jaar terug) en hy is nie so entoesiasties soos die vorige hoof nie. Ek het alles afgelaai, met die hoop om dit eendag weer op ‘n nuwe blog te plaas. Vir eers sal dit moet wag. Ek is nie op die oomblik op datum met die nuutste Afrikaanse skrywers nie, maar op my eie blog het ek ‘n inskrywing (of twee) oor boeke gemaak (vir kinders tot en met so 10-11/12) waarin ek ‘n paar gunsteling boeke/skrywers noem. Marilee McCallaghan onthou ek het ‘n wonderlike boeke gehad (Wedloop teen die wind- ek dink was die titel) dan Maretha Maartens ook een van my top gunstelinge.

        Liked by 2 people

      2. Ja, Sakmense is een van my grootste gunstelinge – enige van haar boeke is beslis die moeite werd! Dan, moenie Elsabe Steenberg vergeet nie. Alba Bouwer ook.

        Liked by 1 person

  2. Daar is ‘n pragtige kinder-prenteboek deur Elsabe Steenberg: Eendag die blou vo-el. Ek het ‘n paar jaar terug die boek gegoogle, want ek wou hom koop, dis iets wat jy vir jouself moet he. Ongelukkig kon ek nie die boek kry nie. ‘n Pragtige storie ook.

    Liked by 1 person

      1. Ek het so pas kans gehad om ‘n search te doen en toe kry ek twee ander boeke van Steenberg waaraan ek nie vroeer kon dink nie: Eendoring met lang bene en Klawervyf. Klawervyf kan nie nie die storie so goed onthou nie. Ek dink die boeke is nou baie skaars en sal jy hulle dalk net by tweedehandse boekwinkels kry.

        Liked by 1 person

      2. Nog ‘n goeie skryfster: Freda Linde. Ek het haar boeke: Jos en Klos en Dakkuiken geniet – beide kinderboeke vir die jong kind. Het jy as jong(er) kind Rooi Kanarie Hoepelbeen gelees? ‘n Pragtige boek deur Elsabe Steenberg en een laaste een ook deur haar, maar vir volwassenes – wat daarin belangstel om boek-keuses te maak (of bib onnies/onderwysers) – is ‘My kind en sy boek’. Nou gaan ek jou nie meer ‘spam’ met nog meer boeke nie. As ek eers al die gunstelinge so een na die ander onthou, sal ek ‘n dag lank neem om hier te skryf. 🙂

        Liked by 1 person

      3. Nikita, op begaafdekind.com is ‘n afdeling vir boekresensies en aanbevelings. Sal jy asseblief resensies skryf oor die boeke, sodat mense dit kan soek en lees? Een per boek, dit sal absoluut heerlik wees om dit daar te laat groei.

        Liked by 1 person

      4. Die probleem is net dat my tyd nou vinnig min raak – ons begin weer Maandag en ons het rapporte om te skryf ook. Ek het ‘n paar inskrywings op my blog oor boeke – vir kinders – ek het juis nou so pas een opgedateer met van die titels hier genoem (prentjies van die buiteblaaie) – ‘n link wat heelwat Onderwysers besoek, want ek het talle werkskaarte daarop geplaas wat ek gedink het ander kan gebruik/aanpas ens. Ek sal kyk of ek tyd het om een resensie (ten minste) te doen. 🙂

        Liked by 1 person

      5. Ek sal dit baie waardeer, jy kan net een doen as jy wil. En ek kan kyk hoe mens met ‘n skakel na jou webblad kan maak. Is daardie resensies in Engels? Dit kan baie kort wees, hoef glad nie lank te wees nie. Eerder iets soos lusmakers.

        Liked by 1 person

      6. Ek sal beslis een kan doen. Die wat ek op my blog het is (van hulle) resensies en ander noem ek net. Ek kan dalk vir die links email en jy kan daarna kyk.

        Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.