Meer oor my

Ek is ‘n oud-onderwyseres en tans navorser met ‘n belangstelling in die begaafde kind.

As onderwyser, was ek veral geinteresseerd in die begaafde onderpresteerder. Van die seuns in my Afrikaans Taalklasse het swak presteer, maar kon die mooiste opstelle skryf wanneer ek die regte onderwerp kon kies om hulle belangstelling te kry. Elke keer wanneer so ‘n seun se persoonlike leer getrek is, het hulle IK-tellings getoon dat dit nie ‘n vloekskoot was nie, hierdie seuns het bogemiddelde intellektuele vermoens gehad.

Die meeste van hierdie seuns was gelukkig in die skool. Hulle het baie maats gehad en hulle het nie ‘n kans gestaan om te druip nie omdat hulle gemiddelde persentasie 60% was. Elke keer wou ek weet: Waarom onderpresteer hierdie seuns? Moet ek ingryp as die seuns op die oog af gelukkig is? Hoe kan ek hulle help om hulle volle potensiaal te bereik?

Intussen is my eie dogter op laerskool as ‘n begaafde kind geidentifiseer en moes sy een keer per week ‘n spesiale klas bywoon waar aandag aan hulle behoeftes gegee is. Dit het my laat wonder of dit die regte ding is, want sy kon agter raak as sy lesse misloop. Ons is nie tydens my BA(Ed) in die onderrig van begaafde leerders opgelei nie, daarom het ek vir ‘n B.Ed (Begaafdekindonderwys) by Unisa ingeskryf om my eie kind se behoeftes te probeer verstaan.

Een van die vakke het my veral geinteresseer, naamlik Ortopedagogiek, of hoe om kinders met probleme te identifiseer en te help. Dit het daartoe bygedra dat ek na afloop van my B.Ed ingeskryf het vir ‘n meestersgraad in Ortopedagogiek.

Die tema van my meestersgraad het gehandel oor die selfkonsep van die begaafde onderpresteerder omdat ek wou weet of dit nodig is om in te gryp indien ‘n seun goed genoeg presteer en gelukkig is. Omdat dei selfkonsep teen die ouderdom van 13 meetbaar is, en begaafde leerders gewoonlik eers teen graad 7 merkbaar onderpresteer, het ek gefokus op die selfkonsep van die begaafde seun wat in die senior sekondere fase (tans senior fase) onderpresteer.

Ek het gevind dat onderprestasie ‘n invloed op die selfkonsep van begaafde seuns het, en dat ‘n negatiewe selfkonsep daartoe kan bydra dat begaafde kinders onderpresteer. Ek het nie dadelik aan my doktorsgraad begin werk nie en toe ek twintig jaar later besluit om ‘n tema daarvoor te kies, het op op die gebruik van tegnologie om die deurlopende professionele ontwikkeling van onderwysers te ondersteun gefokus.

Noudat ek kleinkinders het, en vermoed dat hulle begaafde kinders is, het ek besluit om weer navorsing oor die begaafde kind te doen. Wat ‘n skok was dit nie om te sien hoe min navorsing die afgelope twee dekades in Afrikaans oor die begaafde kind gedoen is nie.

Unisa bied nie meer ‘n honeurs in begaafdekindonderwys aan nie, dit is vervang met kursusse oor inklussiewe onderwys. Dit wil voorkom asof die oorskakeling na ‘n inklussiewe onderwysbeleid veroorsaak het dat daar nie meer navorsing gedoen word oor die leerders wat oor die potensiaal beskik om toppresteerders te wees nie. Veral nie oor die potensiele toppresteerders wat tans onderpresteer in klasse waar hulle verveeld raak omdat hulle maklik en vinnig verstaan nie.

Intussen is navorsing oor die begaafde kind een van die brandpunte in internasionale navorsing. Hierdie gaping in Afrikaanse navorsing het daartoe bygedra dat ek hierdie webblad geskep het waar ek inligting oor die begaafde kind kan plaas, maar op so ‘n wyse dat onderwysers, ouers en kinders by die gesprekke betrokke kan raak sodat ons saam kan leer hoe om die begaafde kind te ondersteun.

Almal word vriendelik genooi om saam te gesels en vrae te vra, saam kan ons ‘n verskil maak.