Gepubliseer in Afrikaans Hulp

Fokus op onderafdelings!

Daar is ‘n groot leemte in hoe ons kennis inneem, verwerk en stoor. Dit beïnvloed dan die oproep van kennis in ‘n groot mate. Daarom dat ek pleit dat kinders moet verstaan dinge bestaan uit onderdele, afdelings of prosesse in stappe verdeel.

Die onderwyser en ouer kan hierin help deur baie daarna te verwys en voorbeelde uit te wys. Neem die visuele voorbeeld van enige iets in die omgewing: ‘n beker het ‘n hol lyfie, ‘n bodem, ‘n rand en ‘n oor. Elkeen van hierdie items het ‘n funksie. Ook: ‘n sin bestaan uit woorde, wat bestaan uit letters, wat eintlik spraakklanke verteenwoordig.

Seker die beste manier is om saam ‘n resep te volg. Iets te bak byvoorbeeld! Leer net vooraf die funksie van elke bestanddeel ken! Vra uiteindelik waaruit die dis dus nou bestaan. Sien? Verskillende dele/ bestanddele!

Hierdie tipe fokus help ons om beter te fokus en te redeneer oor dinge. Dit is die basis van studierigtings: waaruit bestaan goed en wat is die funksie van elke element! Die mikpunt is dat die leerder self moet begin wonder waaruit bestaan dinge en watter funksies elke item het.

Onderafdelings wat op ‘n breinkaart (mind map) ingevul is, is een van die beste maniere om ‘n kind besig te hou. Maar, maak dit lekker! Maak dit vir die brein lekker!

Graad 1 – 10

Waarvan hou die brein baie? Herhaling en herhaling van nuwe kennis! Ook: kennis in jou eie woorde, kleur en vorms. Begin met kleurvolle eenvoudige breinkaarte.

Beantwoord bloot die vraag – wat was die 3 -5 belangrikste stappe wat die juffrou oor hierdie somme gesê het? Trek dan ‘n sirkel met 5 arms. Skryf in die sirkel die naam van die tipe som. Skryf op elke arm wat is die stappe wat juffou genoem het. Nou kan jy elke arm ‘n ander kleur maak.

(Graad 1- 3: Dan kan juffrou dit merk, voorstelle maak en jy kan ‘n nuwe breinkaart maak en in jou wiskundelêer plaas.)

Dit geld ook vir enige ander vak! In ander vakke is die vraag net anders: Uit watter elemente bestaan dit? Wat is die funksies van die verskillende elemente? Wat is die belangrike eienskappe wat ek moet onthou? Wat is die onderafdelings? Wat is die stappe vir die proses?

Gebruik breinkaarte om te studeer

My punte op universiteit het wonderlik verbeter toe ek met breinkaarte begin studeer het. Daar is egter ‘n groot geheim aan hoe jy ‘n breinkaart gebruik:

Op die bladsy met inligting gebeur die volgende: verdeel altyd die bladsy in kleiner onderafdelings. Onderstreep in ‘n onderafdeling terwyl jy dit stadiger as gewoonlik lees om te kan inneem en verstaan.

Verduidelik dan hierdie stukkie werk in jou eie woorde. As jy nie alles in die stuk kan verduidelik nie, is jy nie dom nie, jou brein vra net mooi vir nog bietjie herhaling! Die hoeveelheid wat jy moet herhaal wissel van vak tot vak en dan weer van mens tot mens. En nee, dit het niks met slim en dom te doen nie! Herhaal net die onderstrepende lees tot jy met gemak in jou eie woorde kan verduidelik.

Dan en eers dan! kan jy ‘n bladsy voorberei vir die invul van die breinkaart. Skryf die opskrif in ‘n lekker helder kleur, omkring dit en trek om die sirkel òf spinnekopbene, blomblare, seekatarms, of sonstrale enige iets!! Skryf dan jou onderafdelings in. (Om jou brein te help om te onthou, moet elke breinkaart ‘n ander vorm en kleur hê.)

Lees nou die breinkaart stadig deur en liaseer dit. Moenie vergeet om te liaseer nie! Jy gaan in jou arms huil! Kry betyds lêers, kleurpenne en baie papier.

Jy het in hierdie proses geleer, verstaan, verduidelik, opgesom en geliaseer. Die opsomming kan nou hoeveel keer gebruik word vir hersiening. Hierdie proses laat jou teen ‘n spoed leer en onthou, want dit betrek jou volle aandag plus jy is intensief besig.

Die dag voor die toets gaan jy net deur jou opsomming. Moenie skrik as jy iets vergeet het nie. Dit is baie normaal. Gaan onderstreep weer en die herhaling sal alles terugroep. Nog ‘n voordeel van ‘n breinkaart – dit wys vinnig uit wat nog herhaal moet word!

Ek het lank breinkaarte gebruik om mee klas te gee. Dit werk fantasties! Kinders het dit dan graag afgeskryf! Ons het ook skryfstukke so saam op die bord beplan.

Hier volg voorbeelde:

Pret:

Google waaruit bestaan jou duim, ‘n menshaar, ‘n motor, ‘n sjokolade, ‘n verkyker, ‘n selfoon, ‘n kamera… Kyk wat is die funksie van elke onderdeel en hoe dit alles saamwerk om ‘n eenheid te vorm.

Leer speel-speel lekkerder!

Skrywer:

Ek is 'n 63-jarige afgetrede Afrikaans Huistaal onderwyseres,wat op 60 afgetree het. Ek het 20 jaar vir seniors Afrikaans onderrig - 10 jaar in EA en 12 jaar in HT. Ek het twee begaafde kinders van my eie, daarom die passie vir die onderrig van begaafde kinders. Die belangrikste aspek rondom die begaafde kind is dat dit nie die ouer of onderwyser moet intimideer nie. As u dink dat u nie bevoeg is om so 'n kind te help nie, is u totaal verkeerd. Hulle het ons leiding nodig om te vlieg. Hulle vlieg net vinniger as ander! Geniet dit om te sien hoe vinnig die proses is. Ons sukkel genoeg met ander wat nie eers belangstel om te probeer nie!

4 gedagtes oor “Fokus op onderafdelings!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.