Aktiwiteite om begaafdes in klaskamers uit te daag om aandag te gee

Een van die belangrikste probleme waarmee begaafde leerders in klaskamers sukkel, is verveeldheid. Hulle verstaan vinniger, leer makliker en dit frustreer hulle as die ander leerders nie so maklik soos hulle verstaan nie. As hulle nie konstruktief besig gehou word nie, kan hulle klasse ontwrig. En later onderpresteer en selfs druip

Verskeie strategieë kan gebruik word om die begaafde kind in jou huis of klaskamer uit te daag om sy of haar intellektuele potensiaal te ontwikkel.

Ek noem ‘n paar en daag onderwysers en ouers uit om saam te gesels in die kommentaar.

Ontwerp komplekser aktiwiteite

Mens is geneig om vir die gemiddelde kind te beplan, maar dit is belangrik om leeraktiwiteite te ontwikkel wat komplekser denkprosesse vereis om die begaafde kind se aandag te trek.

Indien hulle reeds verstaan en die ander leerders nie, kan die komplekser leertake uitgedeel word om hulle uit te daag om komplekser probleme op te los (Inhoud en proses).

Vra vrae

Die begaafde kind is gewoonlik die een wat al die vrae vra. Hulle wil verstaan.

Vra daardie vrae in die klaskamer: hoe, hoekom, waarom en sodanige vrae en volg op deur die bogemiddelde leerders te versoek om bewyse vir antwoorde te verskaf (proses).

Laat hulle navorsing doen

Begaafde kinders kan gewoonlik individueel werk. Skep geleenthede vir navorsing oor verwante onderwerpe of iets wat die begaafde kind interesseer, dit is ‘n uitstekende manier om die begaafde kind aktief by leer te betrek terwyl die res van die klas besig is om konsepte aan te leer wat hulle reeds bemeester het (Inhoud, proses, produk).

Bied geleenthede om probleme op te los

Begaafde kinders beskik oor die potensiaal om probleme op te los. Stel probleme wat in die werklike wêreld voorkom en op vakinhoud gebaseer is en versoek die leerders om oplossings te vind. Hulle kan navorsing en eksperimente doen of onderhoude voer en moet gelei word om tot gevolgtrekkings te kom (Inhoud, proses en produk).

Ontwerp aktiwiteite bo graadvlak

Daar word dikwels verwys na die begaafde kind as die leerder wat tot die volgende jaar moet wag om nuwe konsepte aan te leer. Hulle verstaan vinnig, hoef nie baie te herhaal om te verstaan nie.

Wees dus gereed met aktiwiteite oor konsepte en vaardighede wat bo die graadvlak is.  Ontwerp leeraktiwiteite rondom hierdie konsepte en vaardighede wat in kleingroepverband of individueel voltooi kan word om nuwe konsepte aan te leer terwyl die res van die klas met die werk besig is wat hulle nog nie verstaan nie (Inhoud, proses en produk).

Laat hulle voorleggings voorberei of stories skryf

Begaafde kinders kan versoek word om visuele of mondelinge voorleggings te maak wat op die inhoud vir die hele klas betrekking het. Hulle moet nie die onderwyser se werk doen nie, dit is eerder ‘n geleentheid om te oefen om inligting te versamel en op ‘n geordende wyse weer te gee terwyl hulle tegnologie gebruik om ‘n produk te skep.

Hierdie leerders het gewoonlik ‘n ryk verbeelding, dus kan hulle aangemoedig word om ‘n program soos Word te gebruik om ‘n storie te skryf (Proses en produk).

Integreer tegnologie in die klaskamer

Identifiseer tegnologie en toeps wat die leerder sal uitdaag om verder en dieper te leer as wat van hom of haar verwag word. Hulle kan byvoorbeeld versoek word om produkte te skep wat nuwe leer demonstreer.

Gesels gerus saam, hoe hou jy die begaafde kind besig? Voorbeelde kan help om almal te laat verstaan.

Onthou:

 

Begaafde kinders hou selde daarvan om in die klas uitgesonder te word. Twee van die onderpresterende begaafde seuns wat ek bestudeer het, het doelbewus onderpresteer sodat die kinders nie moet dink dat hulle “akademiese wrakke” is nie. Dit is veral belangrik om begaafde seuns teen die geboelie van die portuur te beskerm. Moet hulle dus nie teikens maak nie, vind maniere om hulle uit te daag sonder om die fokus te veel op hulle te plaas. Leerders word maklik deur die portuur as “teacher’s pet” gebrandmerk en dan sal hulle enige iets doen om van die brandmerk ontslae te raak.

Bronne

  1. Challenging activities for gifted children, blog.advancementcourses.com
  2. 50 tips, tricks, and ideas for teaching gifted students, beskikbaar by weraeteachers.com/teaching-gifted-students.
  3. Van Staden, C.J. 1993. Die effek van onderprestasie op die selfkonsep van die begaafde seun wat in die junior sekondêre skoolfase onderpresteer. M.Ed-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika: Pretoria

 

 

 

 

 

One thought on “Aktiwiteite om begaafdes in klaskamers uit te daag om aandag te gee

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.