Gepubliseer in Joernaal

Taalleer: Kritiese Taalbewustheid

Hier is ‘n lekker oefening en memorandum!

Kritiese taalbewustheid

Is die volgende sinne voorbeelde van neutrale taal, partydigheid, stereotipe taal, emotiewe taal/gevoelstaal, manipulerende taal of veralgemening?

SinTipe taal
As jy groente eet, kan jy nagereg kry. 
Tieners is snobisties. 
Gee honderd rand vir die armes. Jy sal geseën word. 
Die nar is skreeusnaaks. 
Die nar is snaaks. 
Sy kan ongelooflik laag sing. 
Sy kan laag sing. 
Meisies kan net kerm en kla. 
My span het vandag die beste gespeel. 
Help my met my huiswerk of ek sê vir Ma jy rook. 
Koop hierdie haarkleur wat  jou hare voed en laat blink. 
Almal wat in hierdie skool is, is gelukkig. 
Juffrou is die beste juffrou in die skool. 
Ons skool is beter as julle skool. 
Ons het ‘n goeie skool. 
Almal hou van rugby. 
Was asseblief die kar. 
As jy die kar was, mag jy hom leen. 
Hierdie koeldrank bevat vitamines wat goed is vir jou. 
Die hele klas sukkel met Afrikaans. Nie net ek nie. 

Memorandum                                              Kritiese taalbewustheid

SinTipe taal
As jy groente eet, kan jy nagereg kry.Manipulerende taal
Tieners is snobisties.Stereotipering
Gee honderd rand vir die armes. Jy sal geseën word.Oorredende taal
Die nar is skreeusnaaks.Emotiewe taal
Die nar is snaaks.Neutrale taal
Sy kan ongelooflik laag sing.Emotiewe taal
Sy kan laag sing.Neutrale taal
Meisies kan net kerm en kla.Stereotipering
My span het vandag die beste gespeel.Partydigheid
Help my met my huiswerk of ek sê vir Ma jy rook.Manipulerende taal
Koop hierdie haarkleur wat  jou hare voed en laat blink.Oorredende taal.
Almal wat in hierdie skool is, is gelukkig.Veralgemening
Juffrou is die beste juffrou in die skool.Manipulering
Ons skool is beter as julle skool.Partydigheid
Ons het ‘n goeie skool.Neutrale taal
Almal hou van rugby.Veralgemening
Was asseblief die kar.Neutrale taal
As jy die kar was, mag jy hom leen.Manipulering/oorredende taal
Hierdie koeldrank bevat vitamines wat goed is vir jou.Oorredende taal
Die hele klas sukkel met Afrikaans. Nie net ek nie.Veralgemening

Lees ook my essays by: sandreyerskryf.wordpress.com

Gepubliseer in Joernaal

Oefen bietjie digkuns

Ek is besig om ‘n poësiehandboek vir gr 10-12 te skryf.

As die boek voltooi is, sal dit gratis op internet beskikbaar wees. Ek sal jou laat weet.

Om jou nuuskierig te maak vir hierdie groot hulp plaas ek ‘n gedig met notas, vrae en antwoorde uit die handboek. Gebruik dit na hartelus! Hoop dit maak jou las iewers bietjie ligter!

Gepubliseer in Joernaal

(2) Skryfwenke om die gehalte van die verhalende opstel te verbeter

Die verhalende opstel:

Wenke oor die hoofkarakter se uitdaging

***Die verhalende opstel behoort beplan te word met ‘n sentrale uitdaging as die fokus van die verhaal.

Dus:

Bestudeer die onderwerpe wat gegee word goed. Aan watter fisiese uitdaging laat dit jou dink? Voorstelle: Boeliegedrag/diefstal/’n goeie daad wat amper skeefgeloop het/’n fout wat iemand gemaak het/wraakplanne/’n fisiese besering/’n rusie met ‘n goeie vriend/’n slegte verhouding met iemand…

  • Kies nou ‘n fisiese uitdaging vir jou verhaal. Beskryf hoe dit begin of gebeur het.
  • Beskryf die eintlike uitdaging naamlik die emosionele uitdaging wat die hoofkarakter ervaar. Hier is voorstelle: Hy voel magteloos/desperaat/gefrustreerd/moedeloos…
  • Ons wil hê die karakter moet vanaf die onaangename emosies  groei na emosies soos: Hy voel optimisties, want hy glo dat elke uitdaging ‘n oplossing het. Hy voel selfversekerd. Hy voel vol selfvertroue. Hy voel kreatief om probleme om te los. Hy voel geestelik sterk. Hy voel in beheer. (Onthou hierdie is net alles voorstelle!)
  • In die slot word beskryf dat die karakter tot nuwe insig gekom het. Hy besef nou iets wat hy nooit verstaan of geweet het nie.

Voordele van so ‘n fokus:

  1. Die leser kan met uitdagings identifiseer, want almal beleef uitdagings.
  2. Lesers lees graag hoe uitdagings hanteer word.
  3. Lesers wil lees hoe karakters ontwikkel en beter mense word.
  4. Veral wil ‘n leser die oplossing vir die uitdaging ondersoek en dit as goeie raad beskou. Of hy sal besluit dat dit nie vir hom sal werk nie, want sy situasie verskil te veel van die hoofkarakter s’n.
  5. Die uitgangspunt om in jou verhaal op die uitdaging, die oorkoming daarvan en karaktergroei te fokus, gee eenheid aan ‘n verhaal.
  6. Hierdie fokus gee kwaliteit aan jou verhaal, jy val nie rond tussen gebeure en gedagtes nie.

Beplanningvoorstel vir die verhalende opstel               

Vooraf:                                        

A.  Dink eerstens hieraan: Wat is die fisiese uitdaging?

B. Dink dan tweedens hieraan: Wat is die emosionele uitdaging?

C. Dink derdens hieraan:  Wat is (in baie kort), die oplossing vir altwee uitdagings? _____________________________

Nou kan jy verder beplan:

Paragraaf 1: Verduidelik wat het waar gebeur en wanneer.

Paragraaf 2: Verduidelik wat die karakter nou voel. Jy kan meer as een emosie betrek. Is die gevoelens menslik, reg, ontstellend, sleg vir sy geluk, sleg vir sy welstand?

Paragraaf 3: a. Oplossing vir fisiese uitdaging:

b. Oplossing vir emosionele uitdaging.

Paragraaf 4: Karakter beplan oplossing (Wie, wat waar, wanneer?)

Paragraaf 5: Karakter begin met die oplossing.

Paragraaf 6 – 7: Hoe verloop die res van die verhaal?

Paragraaf 8: Hoogtepunt

Paragraaf 9: Nuwe insig en nuwe besef lei tot karaktergroei. Beskryf dit volledig.

Hierdie is ‘n voorstel waarmee jy lekker kan speel. Lekker skryf!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gepubliseer in Joernaal

Wenke vir beter gehalte skryfstukke (1)

Ons behoort almal voortdurend die gehalte van ons skryfkuns te wil verbeter. So kan ons groei in skryfkuns. Groei is opheffend en ‘n heerlike uitdaging.

Hierdie wenke fokus op die oriëntering van die leser.

Ons skryf vir lesers en daarom moet ons vir hulle beplan. Dit is ‘n baie belangrike manier om jou skryfwerk te verbeter.

Die oriëntasie van die leser vind plaas in die eerste paragraaf. Word ‘n kortverhaal gelees, behoort daar aan die begin van die verhaal die volgende vrae by die leser te wees:

1. Nou waar is ons? (P)

2. Ook behoort ons te wonder oor die tyd. Is dit winter? Is dit gedurende die moderne tyd? Of is ons nou in die Tweede Wêreldoorlog? (T)

3. Dan behoort ons ook te wonder oor watter uitdading oorkom moet word in die verhaal. (S)

Dus is TPS (Tyd, Plek, Situasie) baie belangrik vir die oriëntasie van die leser.

Soos prosa ‘n hele eerste hoofstuk vir oriëntasie gebruik , skryf ons wat korter skryf oor TPS in die eerste paragraaf. Jy kan TPS in enige volgorde gebruik:

Sy het geweier op dinge uit te praat. (S) Ons het in stilte daar op die stoep van haar huis gestaan. (P) ‘n Koel lentebries het blare sag laat ritsel. (T) Dit was twee weke gelede. (T) Niks het verander nie. (S)

Voorbeelde vir die beskrywing van tyd:

1. Dit was Reëntyd. Kaalvoettyd. Veertig jaar terug.

2. Twintig jaar terug het lente op ons plaas gebot en groen uitgestoot soos nog nooit.

3. Nog nooit was die lente vir my so mooi soos in Septem-ber van 1978 nie.

4. Dit was die somer van 1994.

5. Dis winter. Die sneeu val. Bomme val.

Voorbeelde vir die beskrywings van uitdagings:

1. Hy was ‘n meestermanipuleerder.

2. Mense se aanvaarding is voorwaardelik.

3. Hy wou net elke stukkie skuld afbetaal.

4. Sy het geweet dat hy weet. 5. Hierdie keer sou sy die muur afbreek.

Omdat plek makliker is om te beskryf, laat ek dit uit. Onthou: ons gee nie in die kortverhaal ‘n volledige beskrywing van ‘n plek as ons ‘n oplossing vir ‘n uitdaging probeer vind nie!

Lekker beplan aan jou eerste paragraaf. As jy die oriëntering kunstig doen prikkel dit dadelik die liewe leser se aandag en wil liewe leser graag verder lees.

Lekker beplan en dan…lekker skryf!

Gepubliseer in Joernaal

Taalleerhersiening vir gr.10 – 12

Hierdie hersiening dek ‘n redelike groot deel van die sillabus. Met hierdie oefening kan jy sien watter afdelings verdien meer aandag.

Wenk:

Gee by elke antwoord ‘n rede vir jou antwoord. So toets jy ook jou kennis.

Opmerking:

My liefde vir taalleer laat my heerlik daarmee speel. Daarom was die uitdaging: Hoeveel vrae kan jy uit ‘n sin vra?

Gepubliseer in Joernaal

Taalleerwenke: Woordsoorte

Om ons milieu beter te verstaan, is dit belangrik dat ons vra wat die funksie is van dit wat ons identifiseer. Dit help baie as jy die funksie van woordsoorte verstaan.

Koppelwerkwoord: Hierdie woordsoort word nie deur almal verstaan nie. Koppel beteken verbind of in verband bring. Wat doen hierdie woordsoort in ‘n sin?

Vergelyk hierdie sinne:

  1. Die klaskamer.
  2. Die klaskamer groot.
  3. Die klaskamer is groot.
  • Ons kan sien dat die koppelwerkwoord eerstens baie belangrik is om betekenis aan die sin te gee.
  • Tweedens skep dit ‘n verband tussen die selfstandige naamwoord (of voornaamwoord) en die byvoeglike naamwoord.

Wat is die verband in hierdie sin? Is maak SINVOLLE beskrywing moontlik.

Vergelyk die volgende sinne:

  1. Hulle drie.
  2. Hulle is drie.
  • Derdens verbind die koppelwerkwoord die voornaamwoord of selfstandige naamwoord SINVOL met ‘n telwoord.

   Bestudeer hierdie sin:

  1. Hy is ‘n skilder.
  • Vierdens skep die koppelwerkwoord ‘n sinvolle verband tussen die selfstandige naamwoord en ‘n ander selfstandige naamwoord.
  • NB! “is” is ‘n hulpwerkwoord van vorm in die lydende vorm. Dit dui die verlede tyd aan. Kyk na die volgende voorbeeld: Die leerder het ‘n sertifikaat ontvang. Verlede tyd: ‘n Sertifikaat is deur die leerder ontvang.

Hier is ‘n handige tabel om van die maklikste woordsoorte mee te leer:

Funksies van woordsoorte

FunksiesWatter woordsoort het hierdie funksie?Wees nou meer spesifiek. Vra die vrae. Skryf dan die spesifieke onderverdeling van die hoofwoordsoort ook neer. Bv. Lidwoord: bepaald
1. Dit bepaal (dui aan wie of wat presies) LidwoordDui dit aan of dit ‘n onbepaalde/bepaalde selfstandige naamwoord is?
2. Dit gee name Selfstandige
naamwoord
Waarvoor word ‘n naam gegee?
3. Dit staan in die plek van    name Voornaam-woordIn watter woord(e) se plek staan dit?
4. Dit beskryf die selfstandige naamwoord Byvoeglike naamwoordStaan dit attributief of predikatief?
Staan dit in die stellende -, vergelykende – of vergelykende trap?
5. Dit dui getal aan TelwoordIs dit ‘n hooftelwoord of rangtelwoord?
6. Dit skep verbande Koppelwerk-
woord
Word die verband tussen woorde aangedui?
7. Die handeling word   aangedui Hoofwerk-
woord of net
werkwoord
Is die handeling oorganklik/onoorganklik/ onpersoonlik/wederkerend?
8. Dit help die werkwoord Hulpwerk-
woord
Dui dit tyd/lydende vorm/modalitieit (waarskynlikheid en moontlikheid) aan?
9. Dit beskryf die werkwoord BywoordWord graad òf tyd òf plek òf wyse aangedui?

Kyk na elk woord in die volgende sinne en bepaal wat die funksie van die woord in die sin is deur die tabel te gebruik:

1. Hulle skryf dikwels moeilike toetse.

2. Baie onnutsige leerders vind die drie hoofde redelik streng.

Gepubliseer in Joernaal

Spotprentontleding

Die doel van die spotprent

  • Die spotprenttekenaar wil ‘n boodskap oor ‘n belangrike aktuele saak aan die leser oordra.
  • Enige spotprenttekenaar probeer om lesers dieper te laat dink oor ‘n aktuele saak.
  • Die spotprenttekenaar probeer ook om openbare gesprek oor die aktuele boodskap stimmuleer.

  Uitheffingstegnieke wat in spotprente gebruik word:

  • Wat ons in spotprente moet verstaan, is dat die tekenaar deur die getekende voorwerpe die woorde in die praatborrels wil beklemtoon.
  •  Twee hooftegnieke (metodes) word gebruik om woorde se betekenis vir die leser uit te hef (beklemtoon). Hierdie tegnieke is:
  1. Aansluiting (verband).
  2. Kontras (teenoorgestelde).
  • Maak seker dat jy weet wat elke tegniek beteken:
  • Aansluiting:

Twee of meer dinge in die spotprent bevat dieselfde elemente en dieselfde boodskap.

(Aansluiting is ‘n ander vorm van herhaling. Die boodskap in die woorde word herhaal in elemente van die spotprent.)

Die funksie van aansluiting:

  • As ‘n getekende element in die spotprent aansluit by die woorde in ‘n praatborrel word dit wat gesê word, deur die getekende element uitgehef.
  • As daar enige ooreenkoms tussen enige elemente in die spotprent is, word ‘n saak deur die ooreenkoms uitgehef.
  • Kontras:

Woorde en getekende elemente kontrasteer met mekaar. Die elemente bevat dus teenoorgestelde boodskappe.

 Die funksie van kontras:

  • Die verskil in voorkoms, opinie, of doel word uitgehef.
  • Kontras hef uit dat verskillende opinies oor ‘n saak normaal is .
  • Dit hef uit dat diversiteit normaal is.

Elemente wat òf aansluiting òf kontras uithef:

  1. Die prent as geheel:

1.1 Voorgrond en agtergrond (waar in die prent staan die getekende voorwerp?

1.2 Waarom staan die getekende voorwerp in daardie spesifieke posisie?

1.3 Die antwoord is een van die volgende:

  • Dit sluit aan by…
  • Dit kontrasteer met…
  • Dit hef uit dat…
  • 2. Die karakters in die prent
  • Bepaal die gesigsuitdrukkings.

        Funksie van die spesifieke gesigsuitdrukking?

  • Dit sluit aan by…
  • Dit hef uit dat…
  • Dit kontrasteer met…en hef so uit dat…
  • Bepaal die karakter se lyftaal.

Funksie van hierdie lyftaal?

  • Dit sluit aan by…
  • Dit hef uit dat…
  • Dit kontrasteer met… en hef so uit dat…

Soek na die volgende elemente en bepaal hulle funksie:

3. Die praatborrels

3.1 Die letters van die praatborrel.

  • Is daar hoofletters?
  • Lyk party letters groter as ander?
  • Is daar vetdruk?
  • Kyk of daar skuinsdruk is.

Funksie van enige van hierdie uitheffingstegnieke:

  •  Dit sluit aan by…
  • Dit hef uit dat…

3.2 Die leestekens in die praatborrel.

  • Funksies:
  • Die vraagteken hef die vraag uit.
  • Die vraagteken hef uit dat die karakter iets bevraagteken.
  • Die uitroepteken hef uit dat die spreker hard praat of skree.
  • Die uitroepteken hef een van die volgende uit: dat die spreker geskok, verwonderd, kwaad of bly is.
  • Die leser word dus emotief by die saak betrek en geïnspireer om betrokke te raak by die openbare gesprek aangaande die aktuele saak waarna die tekenaar verwys.
  • Meer as een uitroepteken hef die vorige punte verder uit.
  • Ellips: Funksie: In ‘n spotprent lok ellips die leser uit om oor dit wat die karakter sê, te dink en sy eie opinie te vorm.

3.3 Alliterasie of assonansie

  • Alliterasie: herhaling van konsonante in ‘n reël.
  • Assonansie: Herhaling van vokale in ‘n reël.
  • Funksie:
  • Deur herhaling van spraakklanke word dit wat gesê word in die sin deur klank uitgehef.
  • 3.4 Emotiewe taal
  • Dit is die woorde wat emosie aan die leser oordra.

Let veral op na:

  • tussenwerpsels,
  • die bywoord van graad
  • intensiewe vorm van die byvoeglike naamwoord,

Funksie:

  • Emotiewe taal betrek die leser emosioneel om hom tot nadenke of aksie te laat oorgaan.

       3.5 Letterkundige uitheffingstegnieke

  • Wees op die uitkyk vir beeldspraak en stylfigur wat as uitheffingstegnieke in spotprente, artikels en advertensies gebruik word!

Volgende keer plaas ek ‘n spotprent met vrae en antwoorde.

Gepubliseer in Joernaal

Vrae vir Afdeling A (HT) Vraestel 1 (Sien November 2021 en 2022)

Leerders

Hier is handige vrae om te gebruik. Hierdie tipe vraagstelling behoort ingeoefen te word. Leerders moet gewoond raak aan hierdie tipe bewoording van vrae.

  1. Beoordeel die geloofwaardigheid van… Beoordeel die skrywer se opinie/ Beoordeel die gebruik van die … in … /Beoordeel die woordkeuse van …i n paragraaf …
  2. Skryf twee redes waarom…
  3. Haal ‘n sin uit paragraaf …/ die ma se spraakborrel aan wat verband hou met …
  4. Haal twee woorde uit paragraaf … aan om te bewys dat …
  5. Gee ‘n moontlike rede vir …
  6. Dui die verskil tussen … en … aan.
  7. (Die stelling word gemaak in …) Verduidelik hierdie stelling./Stem jy saam met hierdie stelling? Is … ‘n geregverdige stelling?
  8. In watter opsig verskil … van …?
  9. Vergelyk … met … Dink jy dit is geregverdig om die   afleiding te maak dat …? Motiveer wat jy sê.
  10. Bewys met twee redes dat …
  11. Lewer kommentaar op …
  12. Gee die hoofgedagte van paragraaf/die spotprent/artikel.
  13. Skryf een woord uit … neer wat aansluit by …
  14. Verklaar die teenstrydigheid in die … en …
  15. Dink jy … is korrek? Motiveer jou antwoord.
  16. Dink jy paragraaf… bevestig wat in paragraaf…gesê is? Motiveer.
  17. Verduidelik die verband tussen … en …
  18. Dink jy die skrywer van die teks het sy boodskap geslaagd oorgedra? Motiveer jou antwoord.
  19. Lei die funksie van die … binne konteks van die spotprent/artikel/advertensie af.

Vrae wat met vraende voornaamwoord begin:

  • Waarom is … ironies?
  • Hoe verskil … van …?
  • Wat beteken die uitdrukking: …?
  • Watter implikasie hou dit vir … in as …?
  • Watter afleiding kan die leser uit … maak?
  • Wat bedoel die kenner as hy noem dat …?
  • Watter gevolge kan verwag word as …?
  • Watter visuele inligting skep ‘n woonkameratmosfeer /vakansiemilieu/skoolomgewing?
  • Watter inligting in paragraaf … ondersteun die hoofgedagte in …?
Gepubliseer in Joernaal

Woordskeppings van ‘n 2-jarige

Ek is beïndruuk met die woorde wat my 2 jaar en 6 maande oue kleinkind skep. Daarom gaan ek dit bietjie hier begin neerpen:

  • Steyne – toe ek maak of ek sy myne nie verstaan nie. Dit is syne (sy naam is Steyn – dus Steyne)
  • Blouvaal – nadat hy ‘n ovaal blou ingekleur het
  • Sopkoud – nadat hy sopnat en kaalbas in die koue gehardloop het